Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Sondag
Sondag
Sondag
Ebook505 pages8 hours

Sondag

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Sondag. Oukersaand. Ná ’n inbraak by die Stables Estate in Pretoria-Oos word sakeman Lafras van Zyl vir dood agtergelaat. Die res van die Van Zyl-gesin verdwyn spoorloos. Kaptein AJ Williams moet inspring om te help.  
Alex en Ranna is op die spoor van ’n meisie, wat in Johannesburg vermis geraak het.
Twee misdade. Meer vrae as antwoorde.
LanguageAfrikaans
Release dateSep 3, 2018
ISBN9780798177405
Sondag
Author

Irma Venter

Irma Venter is ’n bekroonde joernalis in Johannesburg. Haar romans sluit in Skoenlapper (wenner van die ATKV-prys vir spanningsromans), Skrapnel, Sondebok, Skarlaken, Sirkus, Sondag en Sewe-en-veertig. Sy is die eerste Suid-Afrikaanse skrywer wat internasionaal uitgegee word deur Amazon Crossing.

Read more from Irma Venter

Related to Sondag

Related ebooks

Related articles

Reviews for Sondag

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

2 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Sondag - Irma Venter

    SONDAG

    Irma Venter

    Human & Rousseau

    Hierdie een is vir Jeanette C

    En vir Paula, Ammi en Hilda

    One Mississippi becomes a study of how identity, in a family, is a group project – we often edit our loved ones into the people we want them to be.

    Have You Heard the One About the Grieving Daughter, James Poniewozik, New York Times, 8 September 2016

    I did the calculations, they were wrong. They were wrong because life cannot be calculated. That’s the big mistake our civilisation made. We never accepted that randomness is not a mistake in the equation – it is part of the equation.

    – Jeanette Winterson, The Stone Gods

    We need myths to get by. We need story; otherwise the tremendous randomness of experience overwhelms us.

    – Robert Coover

    Hoofkarakters in alfabetiese volgorde:

    Ranna Abramson is ’n konflikfotograaf en joernalis. Sy word deur die polisie gesoek vir verskeie moorde wat sy nie gepleeg het nie, insluitend die moord op Tom Masterson (sien Skoenlapper). Volgens haar vervalste ID is sy Francis (Frankie) Beekman. Sy is onseker of die polisie haar werklike identiteit kan bewys.

    Alex Derksen is ’n joernalis. Hy en Ranna is in ’n verhouding. Hulle het mekaar in Dar es Salaam, Tanzanië ontmoet (sien Skoenlapper).

    Sarah Fourie is ’n kuberkraker wat as sewentienjarige tot agtien maande gevangenisstraf gevonnis is. Sy het Alex ontmoet toe hy haar hofsaak vir sy koerant gedek het. Sy het Alex en Ranna al met verskeie ondersoeke bygestaan (sien Skrapnel, Sondebok en Sirkus).

    Kaptein AJ Williams is ’n speurder in die polisie. Sy het vroeër opdrag gehad om Ranna Abramson op te spoor, maar Ranna het haar ontglip (sien Sondebok).

    AJ

    1.

    Woensdag 7 Februarie, 19:14

    Die voordeur swaai geruisloos oop toe ek die knip afdruk. Ek staan vir ’n oomblik stil in die skemerte van die dag, luister hoe die geelvinke kwetter in die tuin se wuiwende luiperdbome, swaar van voëlneste, asof ek ’n indringer is. Asof hulle die huis se mense wil waarsku dat hier ’n ongenooide gas is.

    Te laat om dit nóú te wil doen.

    Ek skop my gemaklike swart skoene uit, leun af en rol wit materiaalsokkies oor my kouse. Trek latekshandskoene aan en raak van my baadjie ontslae. Die aand bied geen genade teen die hitte nie en hier is niemand om vir die pistool aan my sy te skrik nie.

    Ek maak my hare in ’n poniestert vas en tree tot in die voorportaal van die ruim dubbelverdiepinghuis in Brooklyn.

    Die vinke skree blou moord.

    Binne die huis is daar minder stof as wat ek sou dink. Die plek staan al ses weke toe. Die reuk verras my ook. Laventel en suurlemoen. Niks van die sweet of bloed wat ek sou verwag nie, die kloustrofobiese paniek van mense wat wegskarrel voor geweld nie.

    Ek sit die sitkamerlig aan, soek die reuk se oorsprong. Vind dit op die televisiekas: ’n aërosol wat kort-kort parfuum die lug in blaas. Sjjjt, sê dit toe ek verbyloop, die reuk skerp in my neus, die sproei wat in fyn druppels op my val.

    Ek stap verby die leerrusbanke, die Kersboom wat steeds rooi-geel-groen flikker. Verby die kombuis. Ek tree versigtig oor die bloed – so baie bloed – op die trappe, teen die muur.

    Dis lankal nie meer rooi nie, eerder amper swart.

    Ek mik na die boonste verdieping, waar een van hierdie saak se grootste raaisels lê. Die een wat my eerste in die dossier opgeval het toe ek dit vanoggend ontvang het.

    In by die eerste deur aan die linkerkant. Cath van Zyl se kamer. Ek skakel die lig aan, gaan sit op die deurmekaar bed. Die spierwit beddegoed lyk nog nuut.

    Teen die oorkantste muur is twee geraamde swart-en-wit foto’s van die Amerikaanse ballerina Misty Copeland. Dit hang waar mens dit heeltyd kan sien, of jy in die bed lê of by die kas staan en aantrek. Die een waar sy reguit in die kamera kyk, is geteken. Op die ander een staan EK KAN in dik swart letters. ’n Plakkaat wat ’n uitvoering van Giselle in Londen adverteer, hang bo die bed.

    Ek staan op en loop na die venster, maak dit oop. Dis ’n houtraamvenster sonder diefwering hier op die huis se boonste verdieping. My eenslaapkamerwoonstel op die tiende vloer in Hatfield het oral Trellidors, selfs voor die vensters wat nie oopmaak nie. Seker ’n polisieding. En dalk is dit nodig in Hatfield, maar sekerlik nie hiér in die Stables Estate met sy 25 luukse huise, groot erwe, sekuriteit en 24-uur-patrollies nie.

    Ek leun buitetoe, soek na bewyse dat die Van Zyls se enigste dogter tydens die aanval by die venster uit is. Die driemotorgarage se dak is net onder die venster, teenaan die huis, seker so twee, drie meter ondertoe. Cath van Zyl is jonk en atleties; dié sprong sou geen moeite wees nie.

    Dis te sê as sy gevlug het en nie ontvoer is soos wat die dossier suggereer nie.

    Ek soek weer, maar kan niks ongewoons in die flou straatligte uitmaak nie. Geen gebreekte dakteëls of flenters klere nie.

    Ek kan nie die gevoel afskud dat sy nié ontvoer is nie. Niemand het dan nog enigiets van haar gehoor nie.

    Nee, iets anders het hier gebeur.

    Die donkerte verbaas my. Wanneer het die son gesak? Ek kyk op my horlosie. Dis al halfagt.

    Ek gaap moeg. Tyd om huis toe te gaan. Ek sal môre terugkom.

    Ek trek die handskoene uit en druk dit in my jeans se sak terwyl ek ondertoe loop. Op die oog af is alles in die huis steeds nes die Sondagnag toe die Van Zyls verdwyn het.

    Nee. Die nag toe Lafras van Zyl vir dood agtergelaat is en sy gesin verdwyn het.

    Katerien, Willem en Cath van Zyl. Skoonveld.

    ALEX

    1.

    Donderdag 8 Februarie, 12:00

    Sy’s weg.

    Ivanka Babikova – Miss Behave – mors nie tyd nie. Ek het nog nie eers die yskoue Castle voor my nek omgedraai nie.

    Ek tel die foto op wat sy oor die tafel, taai van jare se gemorste bier en halfhartige skoonvee, na my kant toe skuif. Tuur daarna in die swak lig van die Midnight Club. Ek draai die voosgevatte papier na die verhoog waar ’n rooikopvrou met die naam Kitty van haar klere ontslae raak – nie dat daar baie was om mee te begin nie.

    Sy’s mooi maar moeg, die verleiding motories en afgeleef.

    Ek probeer die musiek plaas wat krakerig oor die luidsprekers speel. Vind uiteindelik die spoor: ’n techno-weergawe van You Can Leave Your Hat On. Dis twaalfuur op ’n weeksmiddag en Kitty swaai lyf voor vier mans en ’n vrou wat na ons staar asof sy wonder of ons van die polisie is. Die plek ruik na muf en ou, diepgebraaide kos.

    Ek kyk weer na die foto. Die vrou wat by ’n stokou vaalblou Renault Clio staan, is jonk, eintlik nog ’n meisie. Ligbruin hare, nie uit ’n bottel uit nie, pienk T-hemp, denimkortbroek wat ’n paar atletiese, bruingebrande bene wys. Dit lyk of die jeans sommer self korter gesny is.

    Ranna neem die foto, sit dit voor haar neer, vee die kondensasie van die Amstel-bottel en sluk diep. Dis 37 grade in Johannesburg vandag.

    Hoe oud is sy? Ranna gee die foto terug vir my.

    Ivanka snork agter in haar keel. Sy’s jonk, sy’s mooi. Is dit nie genoeg rede om te help nie?

    Die donkerkopvrou se Russiese aksent klink nes haar naam, eksoties en skerp.

    Ek vee met my duim oor die gesig op die foto asof ek ’n antwoord uit die stom beeld kan toor. Die meisie lyk bekommerd, selfs kwaad, maar sy probeer dit wegsteek deur die motorsleutels gemaak opgewonde na die fotograaf uit te hou.

    Ranna kam die lang swart krulhare uit haar gesig, linkerarm swaar van silwerarmbande. Sy staar stip na Ivanka, soos altyd as iemand haar vrae ontduik. Haar oë is donkerblou vandag, nes die wolke wat buite opsteek.

    Ek weet nie hoe oud sy is nie. Dalk weet Ruby. Ivanka wink ’n vrou uit die kroeg nader, haar hare ’n gordyn van vlegsels.

    Ruby loop asof haar linkerheup sukkel, al kan sy niks ouer as veertig wees nie. Sy lyk net so moeg en beneuk soos die Rus. Ek loer onderlangs na Ranna. Hoe het sy ooit hierdie vroue oorreed om vir ’n foto-essay te poseer? Om haar genoeg te vertrou om haar van hierdie meisie te vertel? Hulp te vra?

    Hoe oud was die kleintjie? vra Ivanka vir Ruby.

    Ruby se mond trek bitter. Sy was agtien.

    Agtien? Ivanka klink verbaas.

    Ruby trek haar skouers op. Dis wat sy gesê het, en sy’t ’n bestuurderslisensie gehad om dit te bewys.

    Klink nie of julle haar geglo het nie, sê ek.

    Ruby se oë vernou. Gaan julle regtig help, of gaan julle twee ure vat soos die polisie om ’n verklaring te neem sodat julle bietjie kan perv en gratis koffie drink? En dan hoor ons nooit weer van julle nie.

    Ek kyk terug na die foto. Weet Ranna was reg oor die meisie, en oor my, soos altyd. Dat ek hierdie storie moet doen.

    Ons sal ’n artikel skryf, sê ek, maar dan moet julle help. Hoe oud was sy regtig?

    Ruby kruis haar arms. Ek dink sy was nader aan sestien.

    En die Renault?

    Colin wou glo sy’s agtien, maak nie saak of die lisensie vervals was nie. Sy’t hier ingeloop, jonk en vars – en nice – en vir hom gesê sy kan dans. Vir hom gewýs sy kan dans. Ruby klap haar vingers. Net so kry sy die werk, maak nie saak dat ek gestry het sy’s te jonk nie.

    Kon sy dans?

    O ja, sê Ruby.

    Strip?

    Sy moes leer, maar sy’t gou geleer.

    Ek voel vreemd verlig oor die antwoord. En was sy regtig nice, of was dit net om werk te kry?

    Ruby vee die vlegsels uit haar oë. Haar naam was Martina. Tina.

    Ek knik. Goed dan. Was Tina regtig nice?

    Want daar is regtig nice en dan is daar nice om te oorleef. Nice want jy weet wat om te doen om kos te kan koop.

    Ruby se mondhoeke trek af. Sy was regtig nice.

    Te nice vir hier, stem Ivanka saam. Maar sad. Baie sad. En kwaad.

    Die Rus vis ’n pakkie sigarette uit haar handsak, steek een aan en blaas die rook hoog die lug in. Haar nek wys die naderkruip van ouderdom, lyne wat room en grimering nie meer kan wegsteek nie.

    Wanneer het sy verdwyn? vra ek.

    Iewers voor Kersfees, antwoord Ruby. Ek en Ivanka was vir ’n week af. Toe ons die 30ste terugkom, was sy weg. Mense praat asof hulle haar laas die oggend van die 24ste gesien het.

    So lank al? Het die polisie niks gekry nie?

    Hulle het nie eers gesoek nie. Ek weet wat hulle dink, en julle seker ook … ’n blesser het haar kom vat, of sy’s strate toe, of sy’t iewers ge-OD, of sy’s huis toe. Ruby se hand aap ’n mond na wat oop- en toeklap. Maar sy’t nie een van daai goed gedoen nie, en sy’s ook nie ’n junkie nie.

    Hoe weet jy dit?

    Is jy nou heeltemal – byt Ruby.

    Ivanka hou haar hand op. Wag, wag. Sy kyk vinnig in die rigting van die voordeur asof sy die klub se bestuurder enige oomblik terug verwag. Die uitsmyter staan met bultende spiere en maak of hy ons nie sien nie. Ivanka het hom honderd rand gegee voor sy met ons kom gesels het.

    Sy draai na Ruby. Onthou, Ranna het gesê hy gaan die feite wil check voor hy die storie skryf.

    Ruby se ken lig uitdagend. Ek weet Martina was nie ’n junkie nie, want ek kyk na die dansers. Sy beduie verhoog toe. Daai een? Llello … coke. Sy dink niemand weet nie, maar Colin het haar reeds middae toe geskuif.

    Sy tik teen haar bors met ’n lang rooi vingernael. Ek weet als wat hier aangaan, en ek kan jou belowe daai girl wou nie huis toe nie. Daar was niks by die huis vir haar nie. Nie geld of kos nie. Sy was desperate toe sy hier aangekom het. Ek het vir haar ’n toebroodjie voor die onderhoud gegee en sy’t geëet asof sy dae laas kos gehad het.

    Ek kyk weer na die foto wat op die tafel lê. Martina. Tina. Sestien is baie jonk om in ’n Johannesburgse strip club te dans.

    Dis al amper twee maande later. Het niemand nog van haar gehoor nie?

    Ivanka skud haar kop.

    Het sy ooit gepraat oor waar sy vandaan kom? Oor ’n pa of ma?

    Nee. Ruby beduie na ’n deur aan die agterkant van die verhoog. Ek sal vir julle gaan wys wat sy als hier gelos het. Dalk help dit.

    Als?

    Tas, klere, grimering. Net haar handsak is weg. Toe sy nie terugkom nie, het ek haar goed in ’n tas gegooi en by my huis gebêre. Hier kry als mos voete. Sy beduie oor haar skouer, na iewers agter die gebou. Daar is enkelkamers hier agter die klub wat die meisies kan huur as hulle wil.

    Ek kyk na Ranna. Watter vrou, hoe oud ook al, los haar klere en grimering as sy wegloop?

    Ruby lag sardonies toe sy my uitdrukking sien. Ek sê mos: sy’t nie gewaai nie, sy’s gevat.

    Die son breek helder deur die wolke toe ons by die Midnight Club uitloop. Ranna sit haar sonbril op en neem my hand.

    ’n Helderblou BMW met blink wiele draai by die hek in en parkeer onder een van die twee afdakke op die terrein. Die motor klink warmgemaak, haastig. ’n Swartkopman klim uit, jongerig, breedgeskouer, goed opgepaste lyf, sy noupassende swart pak en wit hemp meer gedemp as die motor.

    Hy lag verbaas. Frankie? Hy kom nadergeloop, sy blinkswart skoene wat op die gruis lawaai. Wat ’n verrassing.

    Ranna druk my arm, waarsku my, tree vorentoe. Die man soen haar op die wang, steek sy hand na my uit.

    Colin Farrell. En nee, ek het die naam eerste gehad, nie daai akteur nie. Hy glimlag.

    Ek skud sy hand. Aangename kennis.

    Die afwesigheid van lyne om sy oë sê hy lieg. Hy is heelwat jonger as die filmster. En ek kan sien hoekom Ranna my gewaarsku het. Sy oë styg niks hoër as haar T-hemp nie.

    Ranna het hard gewerk om die Midnight Club se bestuurder te oorreed om Ruby en Ivanka in haar foto-essay oor vroue van Johannesburg in te sluit. Nie dat ek weet hoekom sy hom ooit gevra het nie. Op die ou end mag sy hulle glad nie by die klub afgeneem het nie.

    Van naderby kan ek sien dat sy pak duurder is as Ranna se kamera.

    Colin swaai die motorsleutels om en om in sy linkerhand. Julle weer kom foto’s soek? Die agterdog slaan deur die blink vriendelikheid.

    Nee. Ranna glimlag, raak vlugtig, amper intiem aan sy voorarm. Sy skud haar kop. Alex was nuuskierig. En bietjie jaloers.

    Maak sin, speel Colin saam. Ek sou ook wees. Hy lag, maar dis gedwonge. Wil julle nie bly vir koffie nie? Iets sterkers? Die Boeing is lankal oor. Ek steek die goeie whisky in my kantoor weg.

    Nee, dankie, sê Ranna. Volgende keer. Belowe.

    Bel my. Hy huiwer. Volgende keer. Bel my voor julle kom.

    Ek sal, sê Ranna plegtig. Belowe.

    MARIA

    1.

    Donderdag 8 Februarie, 12:02

    Ek maak die tweede laaste blik boontjies oop. Nou is daar net een blik sousboontjies en twee blikkies tuna oor. Die waterbottel lê op een liter en die lemoensap is onder die halfpadmerk.

    Dis genoeg kos en drinkgoed vir drie dae, dalk meer as ek versigtig is.

    Hoe lank kan mens nou weer sonder water oorleef? Drie dae?

    Ek gaan sit op die matras op die vloer. Die laken was skoon toe ek hier aangekom het, maar die wit is nou so ’n lelike roomkleur. Dit ruik ook anders. Van skoon na sweet en stink, na hierdie plek se klam mure, die sanderige pleister en nat rooi bakstene onder dit.

    Wanneer gaan hy terugkom? Hy móét terugkom, want ek kan nêrens heen nie. Die deur is met ’n ketting en ’n groot slot gesluit.

    Help nie ek dink nou weer daaraan nie.

    Al om en om met die blikoopmaker. Dis nog die ou soort, daai met die skerp punt wat jy in die blik inkap en dan op en af wikkel om die metaal te sny. Teen dié tyd weet ek al hoe.

    Stadig, Maria! Moenie jouself seermaak nie. Ons moet jou mooi oppas.

    Ek haat dit om Maria genoem te word. Ek weet nie hoekom hy dit doen nie. Dit klink soos iets uit die Bybel. En ek haat hierdie vuil, stinkende plek. En ek is nie lus vir boontjies nie.

    Ek wil huil, maar ek baklei teen die trane. Huil help niks.

    Ek buig die los metaalflap versigtig oop en steek die teelepel in die rooi tamatiesous. Ek moet eet. ’n Mens weet nooit wat môre gebeur nie. Dis wat Ma altyd gesê het, voor sy …

    Ek vee oor my wang, sluk aan die hartseer wat in my keel opstoot oor Ma. Oor Pa. Oor doodgaan. Oor als. Dan los ek dit en huil maar in elk geval. Hier is tog niemand wat kan sien nie.

    AJ

    1.

    Donderdag 8 Februarie, 14:00

    Hoe vorder jy? Reggie Ndlovu se stem klink nes hy, wakker, dun en aggressief.

    Kolonel, die saak is nog nie eers twee dae by my nie.

    Ek druk my selfoon tussen skouer en nek vas en trek die rooi Merc 300D uit die ry motors wat by die Stables se hoofhek wil ingaan. Hou stil in die naaste besoekersparkering en draai die venster oop dat die middaglug my kan afkoel.

    Jy’s seker reg, ja. Hy sug. Dis net te veel … al hierdie dêm honde.

    Die media en die polisiekommissaris blaas in Ndlovu se nek. Misdaad is altyd meer spesiaal as die buurt stinkryk is. Boonop is die slagoffer ’n bekende voormalige avonturier met ’n beeldskone blonde vrou met ’n Amerikaanse paspoort. Die kinders is net so erg. Wandelende wilgerlat-langkuif-advertensies vir modehuise wat jy net in Sandton City se Diamond Walk kry – Gucci, Ferragamo, Louis Vuitton.

    Maar dit verstaan ek. Kinders is spesiaal, oor hulle moet ons worry. Hulle het nog ’n kans. Hulle kan nog iets met hulle lewe doen, iets goeds en moois, nie soos die res van ons wat al te veel keer drooggemaak het nie.

    Dis al ses weke en ons het niks om te wys nie, kla Ndlovu. Moes Sydney juis nóú siek raak?

    Die hoof van Brooklyn-polisiestasie se speurdiens spreek die woord siek met ongekende respek uit. Mooipraat word gewoonlik vir sy familie gehou, of vir wanneer een van sy troepe ’n wonderwerk verrig het. Nie dat ons noodwendig saamstem oor hoe gereeld dít gebeur nie.

    Maar ek voel nes die kolonel, en ek praat oor kaptein Sydney Mthembu met dieselfde respek. Wat met hom gebeur het, kan met enige een van ons gebeur. Net ná agtuur op ’n Dinsdagaand vroeg in Januarie het ’n dronk donner by Brooklyn-polisiestasie ingeloop, op soek na sy vrou wat daar gaan skuil het. ’n Middeljarige prokureur, die vrou sy derde. Hy is swaar gewond, maar nie voor hy sy blinknuwe Glock leeggemaak het op al wat polisiebeampte is nie.

    Drie van ons mense is op die toneel dood. Sydney was gelukkig, sê die dokters.

    Hy het lank probeer, maar op die ou end het die swart hond hom beetgepak.

    En die media het geen respek nie. Hulle vra heeltyd wat van die Van Zyls geword het, hoekom die polisie weke later nog niks weet nie. Hulle omgee vir kaptein Sydney Mthembu het 48 uur gehou, en een Sondagmiddag se diepte-onderhoud met sy vrou net ná hy op verlof geplaas is.

    Jy moet hulle kry, kaptein Williams, sê Ndlovu.

    Ja, kolonel.

    Jy weet sersant Josephs gaan jou help? Sy’t die misdaadtoneel saam met Sydney gedoen daai week. Sy was deel van die oorspronklike taakspan.

    Net sy?

    Forensies en hi-tech sal jou prioriteit gee. Kry iets konkreets en ek gee vir jou meer mense. ’n Oomblik se stilte. Tensy jy die Valke of provinsie op jou turf wil hê? Hulle dreig hoeka om die dossier oor te neem.

    Nee, dankie.

    As jy nie binne die volgende week iets kry nie, is die saak seker in elk geval hulle s’n.

    Ek hoor.

    Josephs het al die forensiese uitslae. En hi-tech is klaar met die rekenaars. Die fone ook.

    Wat van die toks?

    Dit het vanoggend deurgekom. Lafras van Zyl lyk skoon.

    Ndlovu moes elke moontlike toutjie getrek het om dit só gou te kry. Toksikologie-verslae kan maande neem, selfs jare. En soms kry mens niks nie, want die monster is te verweer, of gekontamineer.

    AJ? Daar’s nog iets.

    Ek hou nie van die skielike huiwering in sy stem nie.

    Kolonel?

    Ons moet die media betrek.

    Dis ’n verrassing. Die media? Hoekom?

    Die Amerikaanse poniekoerante wil nie los nie, al is Katerien van Zyl hier gebore en eintlik Afrikaans. Hulle skryf ellelange artikels oor die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika. Die Amerikaanse ambassadeur het blykbaar die kommissaris by ’n formele ete daaroor gekonfronteer. Hy skel onderlangs. Die Afrikaanse koerante is net so erg. Hulle looi ons heeltyd. Sê ons gee nie om nie.

    Baie mense sê dit. Hoekom is húlle spesiaal?

    Hy ignoreer my sarkasme. Katerien van Zyl se suster is ook nie gelukkig nie. En dis sagkens gestel.

    Wat wil kolonel hê moet ek doen?

    "Jy moet ’n onderhoud of twee gee. Begin by NewsNow. Een joernalis gaan die storie vir al hulle koerante en webwerwe doen, die Afrikaanses ook. Jy kry hom drieuur by die Van Zyls se huis. Hulle stuur vir ons iemand senior wat weet wat hy doen. Hy’t blykbaar al baie misdaadstories gedoen."

    Hoekom kan die media-ouens dit nie doen nie?

    Want ek wil iets in ruil hê. Dalk het iemand daarbuite iets gesien wat ons kan help. Dit het ons tot dusver niks gehelp om stil te bly nie. Sydney het die joernaliste op ’n afstand gehou, maar ons kan dit nie meer bekostig om niks te sê nie. Gebruik die media. Maar moenie dat iemand jou aanhaal nie, anders gaan ek nooit die einde daarvan hoor nie.

    Is kolonel seker?

    Klink ek onseker, kaptein?

    Nee, nee. Ek maak so. Wie’s die joernalis met wie ek moet gesels?

    Alex Derksen.

    Derksen? Ek kan dit nie glo nie. Die vrou wat ek bietjie meer as ’n jaar gelede gejag het se ander helfte. Die reeksmoordenaar Ranna Abramson se kêrel. Daai Alex?

    Onthou kolonel hom? Ndlovu het my destyds op Abramson se spoor gesit.

    Ek hoor papier oor papier skuif aan die ander kant van die verbinding. Ndlovu is ooglopend reeds met iets anders besig.

    Ons moet die regte inligting op die regte tyd daarbuite kry. Moet niks weggee nie, sê net wat gebeur het. Vra vir tyd, ’n bietjie speling, die regte hulp. Los ’n been hier en daar. En doen wat jy kan om die saak op te los.

    ALEX

    1.

    Donderdag 8 Februarie, 14:45

    Brooklyn is amper onherkenbaar. Wanneer laas was ek in dié voorstad van Pretoria? Ek doen die somme in my kop. Ses jaar gelede, toe die Rolex-bende vasgetrek is.

    Talle van die ou huise in die buurt lyk anders as wat ek onthou. Hulle is meer modern, uitgebrei, met roubaksteenmure en growwe verf in natuurlike kleure, soos die mode deesdae dikteer. Nuutgelêde gruispaadjies staan afgemerk met potte vol kruie, groente en vrugte. Die huise voel minder ook, met restaurante, prokureursfirmas, bemarkingsagentskappe en kraakvars meenthuiskomplekse wat op elke hoek opskiet.

    Die straat se bome dra die letsels van die buurt se vooruitgang, as mens dit so kan noem. Die jakarandas wat altyd so dig was, staan uitgedun, vermink, tot op die been gesnoei.

    Ek voel amper lus om om te draai. Ek hou van ou huise met hulle plankvloere, groot kombuise, kaggels en staalplafonne. En bome ouer as ek. Ek vertrou niemand wat ’n boom afkap of ’n ou huis sloop nie.

    Bo my flits die weerlig helder, gevolg deur ’n donderslag.

    Ek kyk op my horlosie. Ek’s honger. Ná die Midnight Club het ek Ranna by Sarah se woonstelblok in Pretoria-Wes gaan aflaai. Verbasend genoeg was die hacker nie voor haar rekenaar nie. Sy het reggemaak om te gaan draf voor die reën kom. Ek weet Ranna sal die minute aftel tot ek terug is sodat ons saam deur Martina se besittings kan sif. En sy sal beslis Sarah se yskas takel. Hoe iemand so baie kan eet en maer bly, weet ek nie.

    Ek draai links, regs, stop by ’n swaar swart hek en ’n waghuis so groot soos my eerste woonstel. Ek soek verby die hek. Die Stables Estate is groot. Ek sou nooit kon dink ’n sekuriteitsdorp lê hier weggesteek tussen die ambassades, besighede en woonhuise nie.

    Die hekwag vra vir my ID en my regterwysvinger se afdruk, dan kyk hy op ’n lys en bel om te hoor of ek ’n genooide gas is. Gelukkig groet ons voor hy ’n bloedmonster vra.

    Ek kan nie glo ek moet met kaptein AJ Williams ’n onderhoud doen nie. Ranna het uitgebars van die lag toe ek haar vertel het, en toe gesê ek moet versigtig wees.

    Ek weet goed om my afstand te hou van ’n polisievrou wat niks weet van los nie. Kaptein Williams het my twee keer gebel ná die xenofobiese gemors destyds by die Pretoria-kerk. Sy wou hoor of Ranna Abramson my gekontak het. Of ek weet waar die vrou is wat Tom Masterson vermoor het, en al daai ander mans regoor die wêreld.

    Wat sal sy doen as ek vir haar die waarheid vertel? Dat ek en Ranna saam vir Tom doodgemaak het nadat hy haar jare lank genadeloos gejag het? Dat hý al daai ander mans vermoor het sodat sy skuldig moet lyk?

    Dalk maak dit nie eers meer saak nie. Daar is bitter min bewyse teen Ranna oor, indien enige, daarvoor het ons deur die jare gesorg. Ons enigste bekommernis is dat die polisie dalk ’n DNS-monster van haar het.

    AJ weet dit. Móét dit weet.

    Beteken nie sy gaan ophou nie.

    Ek ry stadig verby huise wat sê geld bly hier.

    Elke huis in die Stables is individueel ontwerp en sit op ’n groot erf. Sommige het grensmure en ander oop grasperke. Min of geen diefwering.

    ’n Jong vrou en twee Labradors hardloop verby, haastig om voor die reën by die huis te wees. Sy’t seker vroeg by die werk geloop. Of dalk werk sy glad nie. Wat weet ek nou van Pretoria se elite?

    ’n Mercedes-Benz-minibus jaag verby, drie jong skoolkinders wat deur die oop vensters jil. ’n Jong vrou, dalk ’n au pair, roep skril op Engels dat hulle moet stilbly.

    Ek ry verby ’n groot groen park met kareebome en akasias wat stoei in die stormwind. Parkeer die Land Rover op die gras voor nommer 25, die huis verste weg van die hoofhek, en klim uit.

    Van hier af lyk die Van Zyls se dubbelverdiepinghuis soos ’n kerk. Indrukwekkende katedraalvensters, ’n geboogde dubbelvoordeur van hout met loodglasvensters weerskante. Selfs ’n effense toring heel agter.

    Ek kyk na links. Ja, dis soos Google Maps sê: die huis is op die hoek van die kompleks, langs die tienvoet-grensmuur met sy elektriese heining. Sou die inbrekers van buite af oor die muur gekom het?

    Die eerste vet reëndruppels val op die warm teer. Die weerlig knal so naby dat ek instinktief koes.

    Ek maak die tuinhekkie oop. Daar is ’n vyfvoetmuur om die eiendom wat die inwoners taamlike privaatheid gee. Die driemotorgarage sit voor die huis, met net die voordeur en ’n deel van die stoep sigbaar van die straat af.

    Ek draf voordeur toe. ’n Ry lourierstruike steek iets na links weg. Ek gaan staan, spits my ore. Die geduldige, veraf klop van ’n pomp sê dis ’n swembad. Voor die struike staan ’n klassieke rooi Merc, die ruite getint. Langsaan is ’n groot, ronde fontein met ’n sementvis wat water oor wit lelies spoeg.

    Hoe het die motor hier gekom? Iewers moet ’n hek wees wat ek nie kan sien nie. Seker aan die ander kant van die garage.

    Ek klim die trappies na die stoep en klop aan die voordeur. Haastige treë klink van binne af op. Die jong vrou wat oopmaak, is skraal met lang, lang bene in ’n stywe denim. Haar skoene is oorgetrek met wit materiaalsokkies en sy het latekshandskoene aan.

    Daar is ’n beneukte kyk in haar oë, beklemtoon deur ’n prominente rooiraambril. Haar krullerige bruin hare hang los om haar skouers. ’n Fyn moesie sit neffens haar mond à la Cindy Crawford, wat in die 1980’s skoolseuns soos ek laatnag wakker gehou het.

    Middag. Ek’s Alex Derksen. Ek moet kaptein AJ Williams hier kry.

    Die vrou kom uit tot op die stoep. Ja-nee. Wragtig.

    Ek staar vraend na haar, wonder vlugtig hoekom daar rolstoeltoegang na die huis is – ’n breë sementloopvlak wat tot op die stoep draai. Onthou dan wat ek in die koerante gelees het oor Katerien van Zyl se jonger suster, Annabel Kirkpatrick.

    Die vrou bekyk my fronsend, asof sy nie weet wat om met my te maak nie.

    Kaptein Williams? vra ek weer.

    Jy’s vroeg.

    Ek weet. Vroeg wees help soms. Dit laat mense gou maak, sleg voel dat hulle laat is, al is hulle nie. Soms laat dit hulle goed sê wat hulle nie moet nie.

    En van wanneer af is dit slegte maniere om betyds te wees?

    ’n Hele tien minute vroeg, sê sy.

    Jammer? bied ek onwillig aan.

    Sy kyk verby my na die reën en die weerlig. Sug.

    Nou maar toe. Sy beduie na die Mercedes. Gaan klop aan die venster. Kaptein Williams wag in die kar.

    Ek voel aan my bosbaadjie se sak, maak seker ek het my notaboek, opnemer en pen. Steek dan my hand uit dat sy dit nie kan ignoreer nie. Alex Derksen.

    Sy waai ’n latekshand in die lug. Sersant Faradien Josephs. Haar frons verskerp weer. Voor jy by die huis inkom, moet jy daai aantrek. Sy beduie na ’n boks met skoenoortreksels en handskoene op die stoeptafel agter my.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1